Buigsaam soos die groenriet
Is jy ook buigsaam soos die groenriet in die bos,
Wat heenweer wieg wanneer die wind dit streel en los,
en neig na die kant waar dit saggies word gedruk
of sal jy knak en breek as dit hard waai en pluk?
En as die stilte daal, dan staan die riet weer fier,-
selfs na die vloed daaroor gespoel en getier het
is die lewenskrag nog daar, en staan dit weer orent
om aan al wat leef te toon daaraan is dit gewend!
Of moet dit sterk en nederig 'n vinkies las ook dra
en afgebuig sy lewensspan deur so gekrommend ga'.
En as die vinkies onbeholpe rondspring en is bang
dan wieg die nessie saggies aan die rietjie waar dit hang.
Dan weet hul dat hul lewetjies is aan slanke riet vertrou
wat hulle ook dan fier en hoog van vyand weg sal hou.
Want dit is ook die mens se las van siele reg of sleg
wat hy verewig in sy siel moet dra om aan te wys die weg.
En as die luggie saggies deur die hele rietbos waai
dan tril die blare suutjies soos dit vinnig heenweer blaai.
En hoor jy soet die ritselfluit soos al die blare beef
en die crescendo hoër styg as die hele rietbos leef.
Dit fluit of sing 'n hele koor van blare breed of smal
en as die windjie sterker stoot dan klink dit al te mal.
Dit is en bly 'n lied van dank deur riete ook gebring
aan hom wie toekom heel die wêreld se verheerliking.
Geskryf deur Joffie Janse van Rensburg op 31 Augustus 1976